Waak teen haarwurmuitbrake na goeie neerslae

Skape wat met haarwurm besmet is, word uitgeken aan bleek oogvliese en tandvleis. Aangesien die haarwurm bloed in geheel opneem, lei dit tot baie lae bloedproteïnvlakke en ʼn kwakkeel of papperige, waterige sak wat onder die skaap se keel vorm.

Dié inwendige parasiet het waarskynlik die grootste negatiewe uitwerking op skape en bokke in die somerreënval gebiede in terme van jaarlikse produskieverliese en vrektes.

Meer oor haarwurms

ʼn Haarwurm (Haemonchus contortus) is ʼn bloedsuiende rondewurm.

Die vorming van sakke onder die keel of “kwakkeel” soos dit algemeen bekend staan, kan verskeie oorsake hê. Hierdie tyd van die jaar, veral wanneer dit goed gereën het, is dit gewoonlik as gevolg ʼn swaar haarwurmbesmetting.

Die kwakkeel kom ook te voorskyn as gevolg van die vermeerdering van vog. Dit is die direkte gevolg van bloedarmoede en ʼn verlies aan bloedproteïene wat deur groot getalle haarwurms veroorsaak word.

Lewensiklus

Die eiers, wat saam met die mis uitgeskei word, broei onder gunstige omstandighede – naamlik verhoogde vogtigheid en hoë temperature, uit. Dit ontwikkel gevolglik tot die besmetlike larfstadium wat teen die gras opklim en dan saam met die weiding deur die skape en bokke ingeneem word.

Binne die dier ontwikkel dit na die volwasse stadium. Die volwasse wyfies lê tot 10 000 eiers per dag, wat weer in die mis uitgeskei word om die lewensiklus te voltooi. Onder gunstige omstandighede kan dié siklus so kort as 21 dae wees.

Simptome en impak

Die volwasse haarwurm vestig hom in die melkpens en dunderm en voed op bloed vanaf die maag- of dermwand. ʼn Direkte gevolg hiervan is bloedarmoede wat diere lusteloos en traag laat.

Diere kan sodanig verswak dat hulle nie behoorlik kan wei nie. Hulle ontwikkel kwakkeel en vrek uiteindelik as gevolg van ʼn suurstoftekort aangesien daar onvoldoende rooibloedselle is wat suurstof kan dra.

Indien die omstandighede gunstig is en die besmetting baie hoog is, kan die getalle binne die dier so vinnig toeneem dat diere kan vrek selfs voordat kliniese tekens waargeneem word.

Produksieverliese soos verlaagde wolgroei vind ook plaas gedurende ʼn laegraadse besmetting. Melkproduksie in ooie kan verlaag en lammergroei word sodoende belemmer. Die algemene kondisie van die diere kan ook sodanig negatief beïnvloed word dat dit verlaagde reproduksie tot gevolg kan hê.

Behandeling

Met groot uitbrekings beveel kenners aan dat produsente voor die voet moet doseer. In normale omstandighede moet slegs bleek skape gedoseer word, terwyl skape wat nie aan bloedarmoede ly nie, nie gedoseer moet word nie.

Veldbestuur speel ʼn belangrike rol om wurms tydens ʼn uitbreking te help bestuur. Wisselweiding moet toegepas word en groter diere soos beeste moet voor die skape in ʼn kamp gejaag word om die wurms op te tel. Skape moet slegs vir ʼn kort tydperk in die kamp gehou word, en die kamp moet daarna vir minstens twee en ʼn halwe maand rus.

Vleie, lekkende trôe, damme waaruit water sypel en krale met gras daarin moet ten sterkste vermy word.

Dit is voorts belangrik om nie dieselfde middels opeenvolgend tydens ʼn uitbreking toe te dien nie, maar om middels af te wissel.

Verliese kan ook voorkom word, deur die volgende stappe:

  • Gereelde miseiertellings gedurende die somer te doen om die graad van besmetting te bepaal.
  • Identifiseer bloedarmoedige diere voortydig.
  • Behandel diere met tekens van kwakkeel of wat bloedarmoedig is dadelik met ʼn kontakmiddel.
  • Behandel alle diere korrek, volgens massa en moet goed onderhoude toerusting. Onderdosering kan weerstandigheid vererger, terwyl oordosering tot vrektes kan lei.
  • Indien weerstandigheid vermoed word, moet die effektiewe aktiewe bepaal word.

Besoek gerus jou naaste Hinterlandtak vir kundige advies oor die beheer van haarwurm.