Hinterland Kroonstad trek ʼn nuwe baadjie aan

Na presies 30 jaar sedert die Kroonstad-tak sy deure vir die eerste keer oopgemaak het, het hy amptelik op Dinsdag 3 Oktober 2023 ʼn splinternuwe baadjie aangetrek.

“Die opgradering het onder andere die bou van ʼn splinternuwe werkswinkel wat aan John Deere-standaarde voldoen, behels. Die onderdele, werkswinkel, heelgoedere en tweedehandse werktuie is nou alles onder een dak en meer sigbaar aan klante,” het Louis Lingenfelder, takbestuurder van Hinterland Kroonstad, verduidelik. “Ons bied regtig nou ʼn eenstopdiens op een perseel aan ons klante. Die store is ook opgegradeer en die winkel is totaal gemoderniseer om by die hedendaagse kleinhandelsomgewing aan te pas.”

Wayne Edwards, besturende direkteur van Hinterland wat die kleinhandelbeen binne die Senwes Groep vorm, het oor die nuwe aanbiedinge by Hinterland Kroonstad uitgebrei. “Deltec bied nou aan klante ʼn energieoplossing met batterye en sonkrag, en ons ooreenkoms met Dave Sheer het daartoe gelei dat ons nou baie meer omvattend aan ons klante se wapenbehoeftes kan voldoen. Ons het ook nou ʼn koffiewinkel waar klante rustig kan sit en ʼn koffie en varsgebakte pastei geniet.”

Die nuwe baadjie is tydens ʼn uithanggeleentheid  by die tak op Dinsdag 3 Oktober gevier waar oom Johan Minnaar en sy seun Danie Minnaar die lint geknip het om die opening aan te kondig. Wat baie spesiaal hieraan is, is dat oom Johan ook 30 jaar gelede die opening hanteer het toe die hoeksteen van die tak, toe nog Sentraal-Wes Koöperasie, gelê is. Danie is tans die voorsitter van die Senwes-direksie.  

Francois Strydom, hoof uitvoerende beampte van die Senwes Groep, het die nuwe plaat saam met sy vrou, Ronel, onthul. Nadat produsente en verskaffers die geleentheid gehad het om na die opgegradeerde tak te kyk, het die verrigtinge na die oorkant van die tak geskuif waar gaste in styl onthaal is. Soos wat dit Vrystaters betaam, het die bakke behoorlik onder genoeg vleis gekreun en daar is heerlik gekuier terwyl Neil Somers die geselligheid verder ingekleur het.

Hinterland op reis, ʼn kompetisie waar ʼn gelukkige klant ʼn Toyota Corolla Cross 1.8 XS CVT ter waarde van R440 000 kan wen, het tydens dieselfde geleentheid afgeskop. Hierdie kompetisie sal tot 31 Desember 2023 duur. Koop minstens vir R1 000, waarvan twee produkte van verskillende deelnemende verskaffers moet wees, of koop minstens R2 000 se brandstof by Hinterland Fuels.

Die Hinterland leuse, Herontdek dit wat saak maak, is opnuut deur die gebeure in Kroonstad bevestig.